Reguitlyn Kronkelpaadjies

Sondag 11 Augustus 2013

Reguitlyn Kronkelpad

Ek dink dat ons soms aan die lewe, en dus ook God en sy perspektief van die lewe, as liniêr sien. Dis ‘n reguitlyn van tyd wat in minute, ure, dae en weke gemeet kan word. Dis ‘n reguitlyn van kousaliteit waar een ding noodwendig tot die volgende aanleiding moet gee; en as die een ding nie in plek val nie sal die ander ene ook nie kan gebeur nie.

So bou ons reguitlyn kronkelpaadjies. En God se beplanning en wil (watokal presies ons hiermee bedoel) pas hierby in.

Net, dit doen nie.

Ek vermoed dat God se siening, sy perspektief, meer veelvlakkig is. Soos drie dimensioneel. Net meer dimensioneel as wat ons nog besef moontlik is. Hy is die Een wat dinge van hulle plat lyn uitmekaar kan trek soos ‘n opslaan stoel. Of eerder soos ‘n opslaan opblaas sit-aan-mekaar stoel. Die tipes wat ons nooit sal gebou kry, of gemodelleer sal kry nie. Hy kan alle tyd, moontlikhede, toekoms, hede en verlede bymekaar bring in ‘n eenheid. Ek dink dis hoekom God nie uitfreak soos ons nie. Sy perspektief is te groot.

Sy perspektief is nie ‘n reguitlyn kronkelpaadjie nie. Dis ‘n ingewikkelde skema van geweefde lyne, in elke moontlike dimensie en oorweging.

So wanneer ek Sy plan probeer uitfigure, en Sy denke probeer verstaan, en Hom in ‘n boksie van beskryfbaar, definieerbaar en verstaanbaar probeer plaas, sal ek dit nie regkry nie. Want ek verwag alles moet in my reguitlyn kronkelpaadjie pas. En dit doen nie.

My gedagte is eintlik maar net dit: dis okay as ons paadjie nie vir ons sin maak nie, en ons nie vir God kan verstaan nie. Maar ons kan Hom nogsteeds vertrou, want Hy kan wel alles sien en dit aanmekaar sit. Hy is God. Van die heelal. En Hy is my God.

As the heavens are higher than the earth,
so are my ways higher than your ways
and my thoughts than your thoughts.

                     – Is 55:9 –

Advertisements

Om te misluk

Dinsdag 18 Junie 2013

Daar is vrae in die lewe wat ek vermoed meeste mense een of ander tyd vir hulself vra. Vrae wat jou weerloos maak en dalk laat huil wanneer jy moet slaap. Wat jou soms laat terugdeins van uitdagings wat jy gewoonlik tromp-op sou loop. Vrae wat eenvoudige antwoorde het, maar tog deur gewroeg moet word vir die antwoorde om enige waarde te hê.

Die algemeenste vraag, dink ek, is die vraag ‘is ek mooi?’. Die antwoord is ‘ja’. Maar dit het eers waarde as jy self ook so besluit. Met sekere seisoene kom sekere vrae. Een van die vrae, het ek geleer, is ook ‘is ek ‘n mislukking…?’ Dis die tipe vraag wat jy nie hard-op sê jy oor wonder nie. Maar ek vermoed ek is nie die enigste een wat dit al gevra het nie.

Die antwoord is ‘nee, jy is nie ‘n mislukking nie’.

Maar die kronkelpadjie van vorige mislukkings in jou lewe vorm eensklaps ‘n uitgetrapte wandelpad en elke keer wat jy dit loop begin jy vermoed dit lei na ‘n verbrokkelde kasteel. ‘n Kasteel wat eens op ‘n tyd in volle glorie en potensiaal gestaan het, maar wat nou in stene en stukke sement inmekaar gesak lê. Gebroke verhoudings lê soos geraamtes rondom die stukke verbrokkelde sement. Projekte wat begin is maar nooit klaargemaak is nie, beloftes wat nooit nagekom is nie, en boodskappe waarop daar nooit geantwoord is nie, stapel op soos die mos oor die fondasies begin groei – aantuigings van al die kere wat jy gefaal het.

En jy wonder of jy jouself kan distansieer van die kere wat jy misluk het. Erens raak jy die gemene deler van die mislukkings, en loop jou verskonings droog. Jy word gekonfronteer met die moontlikheid dat die aantygings en bewyse oorweldigend is: jy is besig om te misluk.

Daar is geen bewyse op die teendeel wat jou sal oorreed dat jy nie misluk nie, en wat ook sal hou nie. Die besef dat jy ook vatbaar is vir mislukking is humbling. Dit is die kompos vir groei. Vir erkenning dat jy ook foute het en nie durf oordeel nie. Dat jou karakter werk nodig het.

Dit is in die stille ure van die nag wanneer die aantygings my oorweldig, dat ek weet dat slegs God my hoop kan wees. Hy ken my. Hy sien dwarsdeur my en ken my motiewe en gedagtes. Hy deurgrond en ondersoek my. My sacrifice is to Him, a broken and contrite heart. Van God kom my hulp.

Ek besef dat my kasteel nie in puin lê nie – daar is slegs ‘n paar gate in van die mure. Gate wat ek sal probeer vul so goed ek kan. Ek sal beter wees, elke dag oor begin en wees wie ek wil wees.

Want ek wil die kasteel bou, met marmer en stinkhout en goud en silwer. ‘n Kasteel wat getuig van genade en hoop.

Foto: van viewsOfIreland.com

Foto van ViewsOfIreland.com

Om te leef

Dinsdag 5 Maart 2013

 Vir Caro

Rondom my is almal besig met hulle eie gedagtes en bekommernisse. Jy stop en groet, maar jy kan sien hulle aandag is elders. Hulle het al lankal afgesluit van alles wat nie funksioneel is nie. Hulle spaar hul bietjie energie en het die ligte afgeskakel in al die vertrekke wat nie noodsaaklik is vir oorlewing nie. Die kamers van Sin vir Humor, Belangstelling en Deernis is lankal donker. Hier moet ons die einde van die dag haal, die naweek maak. Our fight is to survive.

Die ure in die dag is altyd te min, die werk altyd te veel, en ons altyd te moeg. En ons raak afgestomp. Afgestomp teenoor die mooi rondom ons, die seer, die indrukwekkend. Ons vergeet dat daar meer is in die lewe, dat ons op ‘n tyd meer wou wees.

Ek het altyd hierdie omvattende gedagtes gehad oor wie ek wil wees eendag, hoe my lewe sal wees. Dat ek elke dag voluit sal geniet: dans en sing en droom en kaalvoet loop en bak en brou. Dat ek avontuurlustig sal wees en altyd energie sal hê vir nog iets. Maar ek vind dat graagter as enigiets, ek net wil slaap.  Dat ek mense vermy want ek het nie krag vir hulle nie. Dat ek eerder die kos maak wat ek ken want dis moeite om ‘n nuwe resep uit te probeer.

Maar in helder oomblikke kry ek ‘n blik op die Koningkryk van God en dat ek reeds in die ewigheid leef. Dat die Bybel sê ‘set your minds on things above’. Dat ek reeds gesterf het saam met Jesus en my lewe regeer word deur ander dinge as die wêreld waarin ek nou is.

Ek kan eintlik doen en wees net wat ek wil. Dit is ‘n cliche, ek weet. Maar wanneer ek eerlik daaraan dink is daar niks wat my keer nie, niks wat ek nie kan ‘oorkom’ deur ‘n ander perspektief en houding in te neem, aktief ‘n verandering te maak nie. Die dinge te doen wat ek wil wees. Soos Bybel lees, oefen, beter te eet, omgee, vrede te hê in my gemoed en die dinge van God te oordink. My krag te vind in die vreugde van God. Verhoudings te doen op ‘n ander manier wat strook met wat ek by Jesus leer.

Ek sal nie kla oor iets tensy ek absoluut niks daaraan kan doen nie. Dit is skrikwekkend hoe min ek dan het om oor te kla.

Dit vat egter ‘n wesenlike poging om te verander. Te wees wie ek wil wees. Om te lewe.

Maar dit is dringend dat ons besluit wie ons wil wees, hoe ons lewens sal wees. Om aksie te neem en ons lewens te leef. Die ligte aan te skakel van al die vertrekke en voluit MENS te wees… en te leef.

Image

Om weerloos lief te hê

Donderdag 22 November 2012

Ek het die afgelope tyd gewonder oor die weerloosheid van die mens. Dit is vir my een van die mooiste goed in mense: die weerloosheid en kwesbaarheid; die menslikheid. Om te besef dat ons almal dieselfde behoeftes en onsekerhede het, dat ons almal erens nog ‘n bietjie broos is.

Dit is ook vir my opvallend hoe ons dit probeer wegsteek. Dat dit ‘n slegte ding geraak het om sag te wees; om weerloos te wees. Mure op, wapens gelaai, come backs gereed. Laat niemand sien dat jy seerkry nie, laat tog net nie dat iemand weet jy is nie bullet proof nie.

Al is ons almal eintlik so kwesbaar.

Ek vermoed dat ons slegs waarlik kan liefhê, as ons weerloos is. Die skerms laat sak, iemand inlaat, al weet ons dat ons gaan seerkry. En die deur van ons hart nogsteeds oop te los al kry ons seer. Ek het op hierdie quote van C.S. Lewis afgekom:

There is no safe investment. To love at all is to be vulnerable. Love anything, and your heart will certainly be wrung and possibly be broken. If you want to make sure of keeping it intact, you must give your heart to no one, not even to an animal. Wrap it carefully round with hobbies and little luxuries; avoid all entanglements; lock it up safe in the casket or coffin of your selfishness. But in that casket – safe, dark, motionless, airless – it will change. It will not be broken; it will become unbreakable, impenetrable, irredeemable. The alternative to tragedy, or at least to the risk of tragedy, is damnation. The only place outside Heaven where you can be perfectly safe from all the dangers and perturbations of love is Hell.”
C.S. Lewis, The Four Loves

My gevolgtrekking is dit: dat dit moontlik is om weerloos lief te hê. Dat jy gaan seerkry. Maar dat dit die seerkry werd is. Dat jy vir almal liefde moet hê, maar nie almal in jou hart moet toelaat nie. Dat dit nie altyd mense se skuld is dat hulle jou seermaak nie. Maar dat jy nogsteeds weerloos moet bly teenoor hulle, en nie net toeklap en wegloop nie. Want dit is wat liefde doen. Dit soek nie sy eie belang nie, dit is geduldig, dit hou nie boek van die kwaad nie. Dit bedek alles en verdra alles. Om waarlik lief te hê is om weerloos te wees. En om sonder liefde te lewe, is nie lewe nie.

Verwagtinge

Woensdag 24 Oktober 2012

 

Ek het gehoor dat verwagtinge wat nie vevul word nie, lei tot seerkry. Ek sit vanaand met sulke seerkry, en ek wonder wat die oplossing is. Ek weet seerkry is deel van die lewe, maar ek wil dit tog so ver as moontlik vermy.

Wat my by die kernvraag bring: wie se skuld is onvervulde verwagtinge? Die persoon wat te veel verwag, of die persoon wat daardie verwagtinge teleurstel?

Want dit kom vir my voor asof die skuld altyd lê by die een wat verwag het. Wat beteken ons dink mense moet minder verwag van ander, minder verwag van ons. Oor die algemeen, maar ook spesifiek as dit kom by ouens (die stadium van die lewe waarin ek myself bevind). So gereeld hoor ek mense sê dat die meisie te veel verwag het van die ou. Asof dit die meisie se skuld is dat sy verwag het hy sal decent wees en haar op ‘n mooi manier hanteer.

Dis ook die advies wat ek kry. Ek moet minder verwag.

Ek praat nie nou van random mense nie, maar die mense wat ek ken, my vriende. ‘n Mens het immers eintlik net verwagtinge van die naby jou. Ek is vriende met hulle want ek dink hulle is awesome, goeie mense. Ek verwag nie rose, tjoklits en vele sms’e nie. En ek weet dat teleurstelling ook deel van die lewe is, dat verhoudings ‘n natuurlike vloei het, en dat dit nie altyd so erg is nie. Maar daar is ‘n paar basiese goed wat ‘n mens verwag. En wanneer hierdie verwagtinge teleurgestel word, is dit sleg. Dubbeld sleg, want jy word vertel dis jou skuld – jy verwag te veel.

Wat my laat wonder oor die wêreld. As iemand vir my se hulle het niks meer van my verwag nie… As ek simpel optree, en iemand se reaksie is dat hulle nooit iets meer van moes verwag het nie, en nie weer sal nie – dit sal my hart breek. Mense verstaan nie altyd die konsep dat wanneer iemand sê “moenie worry nie, dis okay”, stel hulle die standaard wat hulle van jou verwag. Verwag hulle nie meer van jou as om slegs soms te reply op hulle boodskappe nie, laat te wees vir goed wat belangrik is, en nie daar te wees wanneer jy moet nie. Hulle stel die standaard van jou optrede vas, en pas hulle verwagtinge daarvolgens aan. So wat sê dit eintlik as jy lae verwagtinge het van iemand? As mense ‘n lae verwagting het van jou…? (Moenie die baba met die badwater uitgooi nie: ek glo in ruimte en genade en rustig wees met jou vriende, en van verstaan. Maar ons onderskat ook hoe dit die verwagtinge raak).

Dis ook vir my ‘n hartseer ding dat ‘n mens van kleins af leer om nie ‘n verwagting te hê nie. Dat ek al soveel keer in my lewe gehoor het dat as ‘n mens geen verwagtinge het nie, jy nooit teleurgestel sal word nie. Asof teleurstelling die norm is. En die lewe eintlik suck. Maar ek dink dis goed om goeie verwagtinge te hê van die lewe. Vol afwagting te wees vir dit wat jy verwag :)

Ek wil hê mense moet hoë verwagtinge van my hê. Ek wil iemand wees op wie mense kan staatmaak. Iemand met karakter. ‘n Goeie hart en goeie maniere. En ‘n sekere consistency.

Maar ek wil so graag ook van die mense rondom my verwagtinge kan hê. En nie so gereeld seerkry omdat ek dink hulle is dit werd nie.

Skoonmaak dinge

Saterdag 15 September 2012

 

Ek weet dis ‘n vreemde ding om te dink, maar ons het nou al vasgestel dat my denke nie die normale patrone volg nie. Hier is my gedagte: ek hou van hoe naelpolitoer-verwyderaar naellak kan afhaal. So maklik word iets afgehaal wat jy op geen ander manier kan doen nie. Binne twee minute, een watte wat pers is van die verwyderaar, en my naels is vry van die ‘afge-chipte’ naellak.

Daar is regtig net een ding wat jou naels kan skoonmaak. Maar hierdie een ding help weer glad nie om ander goed skoon te maak nie. Vir skottelgoed kort jy skottelgoedwasseep, vir bad kort jy lyfseep, vir jou vensters kort jy asyn of windolene. As jy die verkeerde produk gebruik, gaan jy iets net vuiler maak, al is dit ‘n skoonmaakmiddel.

Daar is ‘n punt aan hierdie obvious stellings. My punt is dit: so baie keer probeer ons ‘n situasie oplos, maar ons gebruik die verkeerde manier. Of ons wil onsself ‘skoonmaak’, van hartseer, frustrasie, depressie, telleurstelling. En ons maak skoon en ons maak skoon, maar dit help nie. ( – Yet, here’s a spot! Out, damned spot!) En ons begin glo daar is nie ‘n oplossing nie, en bitter en teleurgesteld gee ons op. Terwyl ons naelpolitoer-verwyderaar op ons hare probeer sit het, en verbaas was oor die split-ends (en moontlik geen hare nie).

Ek dink dat wanneer ons seerkry, of ‘n swakheid ontdek, ons so outomaties skerm en begin ‘skoonmaak’, dat ons nie altyd besef wat ons doen nie. En dit vat ‘n totale tot stilstandkoming om voorraad te neem, besef wat ons doen, te backtrack en weer te begin. Die tandepasta van die venster af te haal en windolene begin gebruik.

Ek dink dat wanneer ‘n mens frustreerd is met die iets wat nie wil regkom nie, wees dit ‘n skaafplek in die hart of siel, of ‘n probleem situasie, ‘n mens dalk moet oorweeg of wat jy doen nie dalk die verkeerde oplossing is nie. Dalk moet ons in elk geval altyd eerste na God toe gaan met hierdie dinge. Dit elke dag weer vir Hom gee, want ek begin die idee kry dat ons nooit lekker weet watter ‘skoonmaakmiddel’ om te gebruik nie, of selfs hoe om dit te gebruik nie.

Hierdie is nie ‘n lessie vir die dag nie. Maar ek dink dat net die Maker sal regtig weet hoe om die maaksel reg te maak. En dat ons eintlik net bitter en frustreerd gaan eindig as ons ons eie goed probeer skoonmaak en regmaak.

Dis vanaand my gedagtes rondom naellak-verwyderaar.

Dis ‘n seisoen

 

Vrydag 24 Augustus 2012

Lente is amper hier. Ek tel die dae af. Lentedag is vir my spesiaal, amper soos Kersfees of Valentynsdag. Dis iets wat gevier moet word, en nie ongesiens verby kan sluip nie. Dalk is my liefde van Lentedag te danke aan my ma, vir toe sy ons as kinders eendag verras het met ‘n piekniek toe ons gedog het ons gaan net biblioteek toe. Dalk kom dit maar net in elk geval van my ma af wat graag elke moontlike geleentheid spesiaal maak.

 

Ongeag, ek kon nooit kies watter seisoen my gunsteling is nie – toe ek klein was en dit die onderwerp van mondelinge was, het ek altyd verduidelik dat al die seisoene lekker is. Herfs se laatmiddag-vroegaand rustigheid, sagte temperatuur en lig vul my met heimwee en hoop. Lente is ‘n tyd van verwagting en droom. Somer is pure pret en verhouding- en familietyd. Winter is menswees en intimiteit voor kaggels en oor lekker sop.

Ek dink dat die lewe in seisoene werk. Dit is ‘n algemene ding, die konsep van die seisoene van die lewe. En nogsteeds verwag ons van die lewe om ‘n reguitlyn grafiek van vooruitgang te wees. Nogsteeds is ons verwonderd as ons opstaan en daar is skielik bloeisels aan kaal takke, of as die kleurryke herfsblare van gister weg is en slegs die kaal, vaal takke oorbly. Ons vergeet dat elke seisoen bewegend is, aan die verbygaan is, op pad na ‘n nuwe seisoen, om net weer terug te keer.

Ek dink dat ons baie dieselfde is met die seisoene in ons lewens. Ons herken nie die seisoen waarin ons is nie. Dan loop ons kaalvoet met slegs ‘n T-hemp in die winter rond. En verstaan nie hoekom dinge dan nie regloop nie. Ons is nie bewus daarvan dat ons in ‘n nuwe seisoen is nie.  En as ons besef watter seisoen ons in is, neem ons dit aan as die status quo, asof ons vassit op ‘n rondomtalie. En ons is terselfde tyd ongeduldig daarmee.

Ons waardeer nie wat die seisoen inhou nie, ons sien nie wat dit vir ons beteken nie. Dit val my elke jaar op hoe ons die seisoene hanteer. Hoe somer geliefd is vir die see, sonskyn, vakansie, Kersfees, kortbroeke en lang dae. En hoe dieselfde seisoen gehaat is vir die sweet, die ongemaklike hitte, die hoofpyne en die sonbrand.  Ons geniet nie waar ons is nie, want ons vergelyk dit slegs met die goeie van die ander seisoen, wat in terugblik eintlik goed was. En wanneer ons seisoen verander, besef ons skielik ons is nie reg daarvoor nie, asof dit te skielik met ons gebeur het, want ons het nooit die huidige seisoen aanvaar en geniet nie.

In elk geval is ons lewens ook maar net ‘n seisoen. Ons pas in by die lewens van ander, ons is ‘n seisoen van ‘n ander se lewe. Ons is ‘n seisoen in die geskiedenis, ‘n generasie wat ‘n spesifieke invloed het op die wêreld. En binne ‘n tydperk, ‘n universiteit seisoen, of die honeymoon seisoen, is daar ook verskeie seisoene.

Maar ons kom dit nie agter nie. Ons het ‘n statiese perspektief van die lewe. En dit maak ons ongeduldig, ongelukkig en gefrustreerd. As ons nie kan herken waar ons is in ons lewens nie, kan ons nie weet hoe om dit te hanteer nie,

en weet ons nie waarvoor om na uit te sien of wat om te verwag nie.

Ek dink dat God seisoene geskep het sodat ons die lewe beter kan verstaan (seker vir ander redes ook ;) ), sodat ons kan sinmaak en sodat ons kan vashou aan ‘n hoop en ‘n verwagting. Want this, too, shall pass. Of dit goed of sleg is.  Want dis ‘n seisoen.