Om te leef

Dinsdag 5 Maart 2013

 Vir Caro

Rondom my is almal besig met hulle eie gedagtes en bekommernisse. Jy stop en groet, maar jy kan sien hulle aandag is elders. Hulle het al lankal afgesluit van alles wat nie funksioneel is nie. Hulle spaar hul bietjie energie en het die ligte afgeskakel in al die vertrekke wat nie noodsaaklik is vir oorlewing nie. Die kamers van Sin vir Humor, Belangstelling en Deernis is lankal donker. Hier moet ons die einde van die dag haal, die naweek maak. Our fight is to survive.

Die ure in die dag is altyd te min, die werk altyd te veel, en ons altyd te moeg. En ons raak afgestomp. Afgestomp teenoor die mooi rondom ons, die seer, die indrukwekkend. Ons vergeet dat daar meer is in die lewe, dat ons op ‘n tyd meer wou wees.

Ek het altyd hierdie omvattende gedagtes gehad oor wie ek wil wees eendag, hoe my lewe sal wees. Dat ek elke dag voluit sal geniet: dans en sing en droom en kaalvoet loop en bak en brou. Dat ek avontuurlustig sal wees en altyd energie sal hê vir nog iets. Maar ek vind dat graagter as enigiets, ek net wil slaap.  Dat ek mense vermy want ek het nie krag vir hulle nie. Dat ek eerder die kos maak wat ek ken want dis moeite om ‘n nuwe resep uit te probeer.

Maar in helder oomblikke kry ek ‘n blik op die Koningkryk van God en dat ek reeds in die ewigheid leef. Dat die Bybel sê ‘set your minds on things above’. Dat ek reeds gesterf het saam met Jesus en my lewe regeer word deur ander dinge as die wêreld waarin ek nou is.

Ek kan eintlik doen en wees net wat ek wil. Dit is ‘n cliche, ek weet. Maar wanneer ek eerlik daaraan dink is daar niks wat my keer nie, niks wat ek nie kan ‘oorkom’ deur ‘n ander perspektief en houding in te neem, aktief ‘n verandering te maak nie. Die dinge te doen wat ek wil wees. Soos Bybel lees, oefen, beter te eet, omgee, vrede te hê in my gemoed en die dinge van God te oordink. My krag te vind in die vreugde van God. Verhoudings te doen op ‘n ander manier wat strook met wat ek by Jesus leer.

Ek sal nie kla oor iets tensy ek absoluut niks daaraan kan doen nie. Dit is skrikwekkend hoe min ek dan het om oor te kla.

Dit vat egter ‘n wesenlike poging om te verander. Te wees wie ek wil wees. Om te lewe.

Maar dit is dringend dat ons besluit wie ons wil wees, hoe ons lewens sal wees. Om aksie te neem en ons lewens te leef. Die ligte aan te skakel van al die vertrekke en voluit MENS te wees… en te leef.

Image